Pensioners and disabled persons have until 30 November 2020 to submit their applications for a rebate on property rates to Overstrand's Rates and Data Control Office. Read More.

%

If you would like to advertise on our site, please contact Adrian for info.

BBRA header image

thumbnailBettysbaai se volgende brand!

Ons in Bettysbaai het baie onlangs ‘n brand beleef. Groot vlamme, sterk wind, hitte, rook, onsekerheid, vrees en ‘n storm van menslike emosies het geheers. Baie vrae en bitter min tyd. Is dit nodig om te ontruim, wánneer moet ons ontruim, wát moet ingepak word, wát moet gelos word en wie moet wát doen?

Die groot vraag bly egter: Wat moet jy inpak wanneer jy die huis moet ontruim?

Ons moes al twee keer ontruim en ons het dus sekere maatreëls in plek.

My sleepwaentjie staan in die garage met sy disselboom na buite sodat dit net gelaai en gehaak kan word.

Ons het ‘n ou skooltas. Daarin is alle noodsaaklike dokumente wat net met groot moeite en koste vervang kan word en nog ‘n paar ander items. Dit is:

  • Die huis se Kaart en Transport
  • Die oorspronklik registrasiedokumente van al ons voertuie
  • Alle kontrakte wat ons bind (huur-, selfoon, voertuig, lenings, ens.)
  • Die 2001waardasie van die huis vir KWB-doeleindes
  • Inkomstebelasting-dokumente (bv. bewyse van mediese koste)
  • Vuurwapenlisensies
  • Matriek- en ander akademiese kwalifikasiesertifikate en getuigskrifte
  • Enige beroepsertifikate, bv. plofstof-skietsertifikaat
  • Dienssertifikate van vorige werkgewers
  • Testament/e
  • Geboortesertifikate en huweliksertifikate
  • Pensioenkaarte
  • Mediese fonds lidmaatskapskaartjies
  • Identiteitsboekies en paspoorte
  • Die eksterne hardeskyf van die rekenaar (op datum, natuurlik)
  • Geheuestafie met al die rekenaardokumente, foto’s en musiek (ook op datum)
  • Alle poliskontrakte (ook die korttermynkontrak as dit nie reeds op die rekenaarrekord is nie.)
  • 'n Volledige stel afdrukke van die voor- en agterkante van al my bank- en kredietkaarte en ook alle ander belangrike kaarte. Dit het my al ure se gespook gespaar wanneer die oorspronklike dokument gesteel of verloor is of bloot verdamp het .
  • ‘n Handgeskrewe lys van al die wagwoorde en ‘usernames’ en ook PIN-nommers wat jy op die rekenaar en elders gebruik. (Handgeskrewe, want jy wil nie so ‘n lys op jou rekenaarrekord hê nie!)

Dan kom die roomysboks met ons chroniese medisyne vir ‘n week en ook kritiese akute medikasie vir dinge soos bysteekallergie, angina, ens. Dit geld mense én huisdiere.

Al die items hierbo is altyd gereed, elke dag, heeljaar deur en hoef nie inderhaas saamgeskraap te word nie.

Dit is nou tyd om nugter oor besittings te dink. Eiendom moet in klasse verdeel word.

Klas 1: Dit is die allernoodsaaklike, onvervangbare items wat jy nodig het om te lewe, maar wat nie in die vorige twee houers is nie. Dit is dinge soos:

  • Kontantgeld
  • Bankkaarte
  • Krities-noodsaaklike klere en kositems vir een dag
  • Komberse en kussings
  • Selfone en laaiers
  • Draradio met batterye
  • Flitslig
  • ’n Trui en ‘n warm langbroek.

Klas 2: Pak noodvoorraad voedsel vir die volgende 24 uur in– vir die gesin en vir troeteldiere. Ook enige onvervangbare item wat nie deur versekering gedek word nie, byvoorbeeld ou gesinsfoto’s, waardevolle skilderye of spesiale speelding vir jong kind en ook diere se bakke. Plaas gassilinders liefs in die motor/sleepwa om dit van die perseel af weg te kry.

Baie belangrik: As jou klere nie standaardmate het nie, sal jy genoeg bruikbare klere moet inpak om darem iets te hê om aan te trek. Dit neem tyd om klere te pasmaak!
Besluite: Nou volg daar krities-belangrike besluite wat vooraf geneem en op skrif gestel moet word. Dit sluit in:

  • Elke persoon se spesifieke pligte om te voorkom dat huisgenote in die drif van die oomblik in mekaar vashardloop. Wees prakties – my vrou weet watter klere moet saamgaan en ek is meer vaardig met die aandra daarvan.
  • Waarheen gaan die gesin wanneer ontruim word?
  • Weet jy waar die gemeenskap se versamelpunt is? (Dit is waar hulle gaan kontroleer of almal wat moes ontruim het wel ontsnap het. As jy nie daar is nie, gaan mense jou dalk in lewensgevaar soek!)
  • Waar woon julle in die eersvolgende dae indien die huis beskadig is?
  • Het jy ‘n lopende verstandhouding met ‘n betroubare bouersvriend sodat jy nie later hoef te rond te val wanneer almal bouers soek nie?

Laaste gedagte: Moet nie te veel sukkel om items wat in elk geval verseker is te probeer saamsleep nie. Dit steel net kosbare tyd.

Ons nooi alle lesers om hierdie stuk met wenke aan te vul en te verfyn. Gebruik die 'Comment' gedeelte hieronder, of stuur email aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.